Wanneer dit kom by aftreebeplanning, is uittree-annuïteite (UA’s) ’n kragtige instrument – maar verstaan jy werklik die belastinggevolge? Nico gesels oor die faktore wat jy in gedagte moet hou tydens aftree-beplanning.
Hoe proses werk met UA’s en taks
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 13 Oktober 2024
Hou hierdie stappe in gedagte tydens aftree-beplanning
Ek het in die afgelope drie Sondae se rubrieke so lekker geskryf aan aftreebeplanning dat ek dit vandag gaan voortsit. Veral wil ek aandag gee aan die belastinggevolge van wat jy aanvang met jou belegging in ’n uittreeannuïteit (UA).
Natuurlik geld dit aftreefondse in die algemeen ook, maar ek fokus op UA’s omdat dit die een plek is waar mense meer kan bydra as wat die wet toelaat – die kern van ons bespreking vandag.
Terselfdertyd kyk ek na die belastinggevolge wat hierop volg, met ander woorde, nadat jy uit die UA uitgetree het en daar is geld oor waarop jy nie die belastingaftrekking kon kry toe jy gespaar het nie.
Maar eers gaan ek agtergrond-verduidelikings moet gee. Ek doen dit deur die proses tot by aftrede en dan tot by dood te verduidelik.
Vóór aftrede
Om in ’n UA te spaar vir aftrede het groot voordele wat ons soms miskyk en só ons eie denke en finansiële-beplanningsmoontlikhede beperk.
Geld wat jy in ’n UA spaar, is beskerm teen skuldeisers. Die groei in jou belegging is belastingvry. Dit is uitgesluit van boedelbelasting.
Kom ons kyk spesifiek na belasting.
Jy kan jaarliks in ’n aftreefonds spaar en die premies is aftrekbaar vir belasting. As jou marginale koers (dit is die koers waarteen jy op die volgende rand van jou belasbare inkomste belas word) sê maar 35% is, dan kry jy in werklikheid R35 uit elke R100 wat jy spaar pasella by Jan Taks.
Dit is yslik.
As jy diskresionêre geld spaar, en jy wil R100 spaar, kos dit jou eintlik R153,85.
Jy moet teen die 35%-belastingkoers eers vir Jan Taks R53,85 gee (meer as die helfte van wat jy vir jouself spaar). En hierna word jy belas op jou groei teen jou marginale koers (ná jou jaarlikse rentevrystelling en KWB-uitsluiting). In die UA is daar geen belasting op groei nie.
Goed, hier kom die tegniese deel.
Die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962), soos gewysig in Maart 2016, laat toe dat bydraes tot ’n aftreefonds (art. 11F) gedoen in ’n bepaalde jaar aftrekbaar is vir belasting in daardie jaar. Dit sluit bydraes tot ’n UA in.
Die aftrekking is beperk tot die minste van R350 000 of 27,5% van die hoogste van belasbare inkomste of vergoeding.
Jy en jou werkgewer dra gewoonlik gesamentlik sowat 15% van jou salaris by tot jou werkgewerfonds. Jy het dus baie ruimte om seker te maak dat jy genoeg voorsiening maak vir aftrede op ’n baie belastingvoordelige manier.
Wat nou as jy meer spaar in ’n jaar as dit wat jy kragtens art. 11F toegelaat word om af te trek?
Dit staan oor na die volgende belastingjaar.
Dra jy dan in jaar twee (of drie of vier) minder by as die maksimum toelaatbaar (die R350 000 of 27,5%) kan jy die oortollige bydraes wat jy in vorige jare nie kon aftrek nie (kom ons noem hierdie geld die “balans van onopgeëiste bydraes”) aftrek. Onderhewig aan die perke soos ek hierbo noem.
Hoekom sal jy dit doen?
Benewens die belastingvoordeel wat jy kan uitstel na opvolgende jare het jy boonop die voordeel van belastingvrye groei. ’n Wen-wen, hoe jy ook daarna kyk.
By aftrede
By aftrede is hierdie geld (“balans van onopgeëiste bydraes”) nie verlore vir jou nie.
Eerstens sal dit deel vorm van die aftrekkings toegelaat ingevolge par. 5(1)(a) of 6(b)(i) van die tweede bylae van die Inkomstebelastingwet om die belasbare gedeelte van die toegelate eenderde-kontantonttrekking te bepaal. Jy wen steeds.
En tweedens, daardie deel van die “balans van onopgeëiste bydraes” wat nog nie aftrekbaar was nadat jy afgetree het nie, is steeds beskikbaar vir jou.
Art. 10C van die Inkomstebelastingwet bepaal dat jy ná aftrede dit wat nog oorgebly het (om dinge eenvoudig te hou) van die “balans van onopgeëiste bydraes” as ’n belastingvrystelling kan eis teen inkomste uit ’n goedgekeurde annuïteit (pensioen).
Eenvoudig gestel: Dit skep vir jou ’n belastingvrye pensioen.
By dood
Ek bepaal my by die kern van ons onderwerp: Daardie “oortollige geld” in jou fonds.
Ons weet almal dat die oorblywende kapitaal in byvoorbeeld ’n lewende annuïteit begunstig kan word aan ’n oorlewende gade of iemand anders. En dat daardie begunstigde dan ’n inkomste kan onttrek, soos ’n pensioen, of die kapitaal kan laat uitkeer (wat in baie gevalle baie dom is, want Jan Taks kan jou looi met tot 36% belasting, afhangende van die kontantbedrag).
Maar wat word van die oorblywende gedeelte van die “oortollige geld” wat ingevolge art. 10C vir jou ’n belastingvrystelling sou wees op inkomste as jy nie doodgegaan het nie?
Die vrystelling (ingevolge art. 10C) is nie oordraagbaar na ’n begunstigde nie.
Kortom, die geld sal ten volle belas word, óf as inkomste volgens die geldende inkomstebelastingskaal óf as ’n kontantbedrag uit ’n aftreefonds, soos ek hierbo verduidelik.
En vir jou boedel?
Voorheen was dit ’n slim plan om ’n klomp geld in ’n UA te belê wat dan by dood uit jou boedel sou wees (die kapitaal in ’n UA of ’n lewende annuïteit is uitgesluit van boedelbelasting). Maar nie meer nie.
Die “oortollige geld” wat ons hier bespreek het, val in jou boedel as ’n geagte bate en is vatbaar vir boedelbelasting. Net soos enige ander beleggingsgeld.
Nog raad
UA’s: Die dilemma met klein bedrae
Soveel mense sit met uittreeannuïteite waarin net ’n klein bedrag geld is.
Hulle het dalk in ’n stadium net ophou spaar. Hoe jammer vir aftreevoorsiening, maar dit is die werklikheid.
Wat om te doen?
Die definisie van “uittreeannuïteitsfonds” bepaal dat die reëls van die fonds sal bepaal dat nie meer as eenderde van die aftreebelang (jou geld in die UA) as ’n kontantbedrag geneem mag word nie. Die res moet gebruik word om ’n verpligte annuïteit (’n pensioen) aan te koop. Behalwe as die oorblywende gedeelte van die fonds (nadat die eenderde geneem is) nie meer is as R165 000 nie. Dan mag die volle aftreebelang in kontant geneem word.
Om dit maklik te maak vir mense wat dalk in hierdie situasie is, dit beteken as die totale waarde van jou UA nie meer as R247 000 is nie, jy die volle bedrag in kontant mag neem.
As jy meer as een so ’n klein UA (waar die R165 000-reël sou geld) by verskillende versekeraars het, geld hierdie toegewing vir elke UA afsonderlik. Nie op die totale waarde van die UA’s nie.
Die waarde van so ’n UA of UA’s is belasbaar teen die skaal wat aftreefonds-kontantbedrae geld.