Moenie later sê “As ek maar net geweet het” nie — hierdie artikel ontbloot die gladde verkoopsraatjies rondom aftrede en verduidelik hoekom langtermyn-finansiële raad altyd bo produkte moet staan.
Vermy die smouspraatjies oor aftrede
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 21 September 2025
Vergeet eers van produkte en dink aan die lang termyn wanneer dit kom by besluite voor aftrede, skryf Nico van Gijsen.
“As ek maar net…”
In ons praktyk, waar ons meestal met ouer mense en mense naby aan aftrede praat, hoor ’n mens gans te veel: As ek maar net geweet het. As ek maar net geluister het.
Ensovoorts.
Met dít as ons vertrekpunt vandag, wil ek graag klem lê op besluite by aftrede. En die ondeurdagte finansiële raad wat mense soms kry van diegene wat eerder produkte smous as om raad te gee.
En daarmee saam die neiging onder sommiges om van die een makelaar na die ander te loop op soek na die raad wat hulle wíl hoor, pleks van dit wat hulle móét hoor.
Aanvaar dié waarheid voordat ons verder gaan.
By aftrede gaan dit eers om toepaslike finansiële raad vir jou spesifieke omstandighede. Dit moet fokus op die lang termyn. Nie maksimum inkomste nie. Die produk volg op die finansiële raad vir die lang termyn.
Ongelukkig werk dit in die praktyk nie altyd so nie. Hier is voorbeelde.
Lewensannuïteit teenoor lewende annuïteit
Dit is die twee opsies wat jy het met verpligte geld. Dit is geld wat uit ’n aftreefonds kom.
’n Lewensannuïteit waarborg jou inkomste en die jaarlikse groei daarop lewenslank. Selfs oor sowel jou as jou gade se lewens tot by die dood van die langslewende. Dit is seker.
Dit gee gemoedsrus.
Die lewende annuïteit bied vir jou ’n opsie om te besluit oor jou inkomste. Jy moet tussen 2,5% en 17,5% per jaar as pensioen onttrek. Niks is gewaarborg nie.
Hier is nou die probleem.
Jy kan meer uit die lewende annuïteit onttrek as wat die lewensannuïteit vir dieselfde bedrag jou bied. Maar dan gaan jou geld binnekort opraak. Glo my. Jy kan baie vinnig verarm.
’n Vergelykende syfer dié week het gewys as ’n man dieselfde inkomste uit sy lewende annuïteit onttrek as wat ’n lewenslange gewaarborgde lewensannuïteit vir hom en sy vrou bied, neem hy teen jaar 14 ná aftrede reeds die maksimum toegelate onttrekking van 17,5% per jaar. Daarna raak sy inkomste jaarliks minder.
Ek is ook al lank genoeg in die bedryf om die gevolge te sien van mense wat nie wou luister nie. Een van die “as ek maar net…”
Jy kan jou leefstyl aanpas as jou aftreegeld ’n bietjie min is. Ons almal kan. Dink langer termyn as net oor die nou.
Verdeel jou geld?
Te veel kere hoor ek die raad was om ’n verdeling te doen tussen ’n lewensannuïteit en ’n lewende annuïteit. Gewoonlik so die helfte in die een en die helfte in die ander.
Hier is die syfers.
Vir ’n man van 65 jaar oud en sy vrou van ook 65 jaar, is die kwotasie vandeesweek vir ’n lewenslange gewaarborgde pensioen, wat jaarliks styg met 5% tot by die dood van die langslewende, R44 961 per maand.
Vir R4 miljoen is dit die helfte soveel, R22 453 per maand.
Die gedagte sou wees om die inkomste aan te vul of te verhoog uit die 50% wat in ’n lewende annuïteit belê word. Kom ons kyk.
As jy, teen ’n groeikoers van 9% per jaar, die verskil wil opmaak, gaan jy teen jaar 15 reeds die maksimum onttrekkingskoers van 17,5% bereik, en daarna daal jou inkomste.
Teenoor die volle pensioen in die lewensannuïteit wat jy weet ’n verhoging van 5% per jaar waarborg tot by die dood van die langslewende, al leef een van julle tot 100 jaar oud.
Vir diegene wat graag iets vir die kinders wil nalaat, hulle kry uit die lewende annuïteit net dit wat oorbly. Dit kan baie naby aan niks wees, veral as jy lank leef en in jou laaste jare reeds ’n dalende inkomste gehad het.
Met ’n lewensannuïteit kan jy die volle aanvanklike kapitaal vir ’n kind of ander begunstigde verseker wanneer jy sterf.
Dink baie mooi as jy met hierdie een gekonfronteer word. Dit is tot iemand se finansiële voordeel. Selde joune.
Oorweeg dit net as jy regtig baie geld het. En dan, as jy regtig so baie geld het – wat min mense werklik by aftrede het – is dit nie nodig om die beskerming en sekerheid van ’n lewensannuïteit te soek nie.
Belastingstories
Loop ook maar lig vir belastingstories. Hier is een wat ek die afgelope week gehoor het.
Die bankmakelaar se “raad” was dat die kliënt die volle een-derde van sy aftreevoordeel onttrek en dit vir sy vrou gee. Die makelaar belê dit en sy sal dan ’n belastingvrye inkomste daaruit kan onttrek.
’n Belasting-bogstorie as ek al ooit een gehoor het.
Die een-derde-onttrekking uit die pensioenfonds is belasbaar. Tot soveel as 36% op ’n deel daarvan. As hy alles gebruik het om ’n pensioen mee te koop, was daar geen belasting gehef nie.
Deur dit te doen, raak dit diskresionêre geld (nie meer pensioengeld nie) en beland dit in die boedelbelastingnet wanneer die vrou sterf. In die lewende annuïteit is dit buite die boedel en is nie vatbaar vir boedelbelasting nie.
Dit raak ook onmiddellik vatbaar vir skuldeisers.
En die belastingvrye inkomste wat die vrou sou kan onttrek?
Die groei in haar nuwe belegging is belasbaar as inkomste en dit word elke jaar gehef. In die lewende annuïteit is daar geen belasting op die groei in die belegging nie.
Ek wens ek het ’n stukkie raad van net een sin hier gehad. Maar ek het nie. Net, kies jou finansiële raadgewer met sorg en vergeet eers van produkte; dink eers lang termyn.