Doeltreffende aftredebeplanning is van uiterste belang vir ‘n sorgvrye aftrede. Waak dan teen die idee om jou aftredebeplanning uitsluitlik te koppel aan die verkoop van jou besigheid. Spaar buite die saak; spaar eerder apart vir aftrede.
Sake-eienaars moet liewers anders beplan
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 8 Oktober 2023
Verseker dat jy nie in finansiële sak en as sit as jy oud is nie
Ek hoor van tyd tot tyd van sake-eienaars wat “beplan” vir aftrede deur kapitaal te wil skep met die verkoop van hul saak wanneer hulle aftree-ouderdom bereik.
Laat ek waarsku teen oordrewe optimisme met dié plan.
Wil jy regtig ’n sekere gebeurtenis gaan vasknoop aan ’n onseker tydlyn?
Tensy die noodlot ingryp en jy vroeër na ’n saliger omgewing verhuis, is ouderdom jou voorland. Dit is die een óf die ander. Vandaar my verwysing na ’n seker gebeurtenis.
Jy gaan oud word. Jy gaan aftreeouderdom bereik. Jy gaan mos nie wens vir die teendeel nie, nè?
Wat jy vir seker nie wil hê nie is dat jy by daardie punt van jou lewe kom en dan vind jy het nie genoeg geld om van te leef nie.
Die onderneming wat vandag vir jou ’n goeie inkomste bied, kan môre daarmee heen wees. Dit is ’n onseker tydlyn waarop jy jou begewe. Tussen nou en dan lê talle strikke gesaai wat die beste sakeplanne van stryk af kan bring.
Die punt hier is dat jy jouself in ’n situasie kan bevind waar jy te oud is om van vooraf te begin en die saak eenvoudig nie die waarde het wat jy in jou opgewondenheid 20 of 30 jaar gelede gedink het jy sal dit voor kan verkoop nie.
Alles het ’n waarde
Alles het ’n waarde. Waarde is egter beperk tot wat iemand bereid is om daarvoor te betaal. Niks meer nie.
Die vraag is nou, wat en hoe?
En die antwoord is maklik. Spaar. Maar spaar buite die saak.
Ek hoor nou die dag van iemand wat heel spoggerig is oor die eie saak wat vir haar soveel geld inbring.
Lesers kan seker dink wat die opvolgende vraag was. Ja, spaar jy vir aftrede?
“Nee, ek moet al die geld weer terugploeg in die saak.”
Ek is bevrees, mens, dan het jy nie ’n saak nie. ’n Eie onderneming beteken niks as hy net homself aan die gang moet hou nie. Jy moet wins maak.
En as jy verantwoordelik is teenoor jou persoonlike finansiële risiko’s, waarvan aftrede ’n ooglopende seker gebeurtenis is soos ek hierbo noem, moet jy ’n deel van daardie wins spaar.
Laat jou geld toe om vir jou te werk. Om vir jou rykdom te skep.
Dis tog immers waarvoor ons almal werk, is dit nie? Ons werk mos darem nie net om aan die lewe te bly tot ons oud word en om dan in sak en as in finansiële ellende te gaan sit nie.
Het jou saak ’n waarde?
Die volgende vraag is, het jou saak ’n waarde?
Ek dink aan diegene sonder wie se bydrae in die saak self, soos vryskutjoernaliste, mediese dokters, regspraktisyns, ensovoorts, die grootste of enigste bron van inkomste is. As jy weg is, beteken daardie saak niks.
Mense wat in so ’n situasie is, moet baie mooi werk aan welvaart skep. As jy oud word en nie meer kan werk nie, as jy siek word of ongeskik raak en nie meer kan werk nie, is daar ’n finansiële plan? Is daar voorsiening gemaak?
Bedryf jy jou saak in ’n maatskappy, saam met ander wat ’n bydrae tot die saak lewer, is dit ’n bietjie makliker. Die vraag hier is, kan die saak sonder jou voortgaan?
Om jouself te toets, kan jy nou weggaan op ’n ses maande lange vakansie in die buiteland en die saak gaan voort? Indien nie, dink weer oor die “waarde” van daardie saak. Dalk lê die enigste waarde in jou bydrae, of tot jou vermoë om kliënte te kan kry.
Dit is belangrik dat jy en jou kollegas, of werknemers, hieroor gesels en antwoorde soek.
Maar steeds, meen ek, dit is nie raad-saam om jou hele aftreeplan te koppel aan die verkoop van jou saak nie. Die punte hierbo maak dit hopelik duidelik.
As jy jou saak bedryf in ’n maatskappy, is dit ’n bietjie makliker in ’n sekere sin. Jy en die maatskappy, jou onderneming, is twee afsonderlike regsentiteite. Jy kan dus ’n salaris trek en ’n deel daarvan spaar vir jou aftrede.
Of dan om persoonlike welvaart te skep, aangesien ek weet baie hou nie van dink aan aftrede nie. Vir solank as wat daar nie uitstaande leningsrekenings in die maatskappy is ten gunste van jou nie. Want dan is jou persoonlike bates ook op risiko.
Beskerm jouself
Bedryf jy jou onderneming as ’n eenpersoonsaak, of in ’n vennootskap, is dinge moeiliker. Die saak is jy en jy is die saak. Alles is in een. Al die risiko’s word gedeel, as jou saak bankrot is, is jý bankrot. En is jou geld, sou jy gespaar het, ook daarmee heen.
Die voor die hand liggende beleggingsoplossing met aftrede as doelwit, is ’n uittree-annuïteit (UA). Bydraes tot ’n UA is belastingaftrekbaar, so jy bespaar op belasting.
Van uiterste belang vir sake-eienaars is dat die geld in ’n UA ook beskerm is teen skuldeisers.
Dis dalk nie nou belangrik nie, maar vorentoe kan jy dalk verplig wees om ’n lening aan te gaan vir uitbreidings, of wat ook al. Met ’n UA kan jy die risiko van die lening – lenings moet terugbetaal word en om dit te kan doen, moet jy genoeg wins maak – beperk tot jou saak.
Jy hoef nie jou aftreegeld ook op risiko te plaas nie.
Nog Raad
Dink ook aan jou werknemers
In die hoofrubriek vandag fokus ek op aftrede vir sake-eienaars, maar aftreevoorsiening vir werknemers is ewe belangrik.
Na my mening is dit elke werkgewer se plig om na sy werknemers, van wie hy deurlopende lojaliteit, om nie te praat van harde werk nie, verwag, om te sien. Net soos jy as eienaar van die saak eendag gaan wil aftree met genoeg van ’n neseier om jou oudag te kan geniet, net so graag wil hulle ook bou aan iets vir hul oudag. Wil hulle voorsiening maak vir onverwagte gebeure soos dood en ongeskiktheid.
Terloops, navorsing het al keer op keer gewys dat werkgewers wat so voorsiening maak vir werknemers, heelwat beter daaraan toe is. Dit is dus tot jou voordeel ook.
Hoe? Word lid van ’n sambreelfonds. Die meeste sambreelfondse is beskikbaar vir ondernemings met vyf of meer werknemers. Die addisionele voordeel van so ’n fonds, benewens dat daar voorsiening gemaak word vir werknemers se aftrede, is dat die risikodekking teen baie goeie tariewe bekom word. ’n Sambreelfonds bied dieselfde belastingvoordele as ’n uittree-annuïteit, of tradisionele pensioenfonds vir die lid van die fonds. En vir die onderneming self is die werkgewerbydraes tot die fonds eweneens aftrekbaar vir belasting.