Beplan jy vir jou aftrede en wonder hoe om seker te maak jou geld hou lewenslank? Ontdek hoe ’n lewensannuïteit vir jou finansiële gemoedsrus kan bied en waarom behoorlike aftredebeplanning noodsaaklik is.
Jou pensioen gewaarborg: Lewenslank
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 29 September 2024
Vrywillige annuïteit bied ’n vriendelike inkomste-keuse
Soms verlang ’n mens sekerheid. Veral as dit gaan oor jou aftreegeld. Nog meer, veral as dit al is wat jy het en jy dit moet laat rek tot jou dood.
Dis die ding met aftrede: Jou geldbeplanning is tot die dood toe. Letterlik. Jy kan eenvoudig nie foute maak nie.
Verlede Sondag het ek hier geskryf oor lewende annuïteite. Ter volledigheid oor die opsies vir ’n pensioen-inkomste ná aftrede fokus ek vandag op lewensannuïteite.
’n Lewensannuïteit verskil van ’n lewende annuïteit in die sin dat jy gewaarborg is van ’n inkomste tot jy die dag doodgaan. Jy weet presies wat jy gaan kry en hoeveel jou verhoging per jaar is.
’n Lewende annuïteit daarenteen bied geen sekerheid nie. Jy moet maar self sien kom klaar met die beleggingsopsies om seker te maak dat jy vanjaar en die jare daarna genoeg kapitaalgroei kan kry om jou pensioen te kan betaal.
Verpligte geld en diskresionêre geld: Ek het verlede week ook gewys op die verskil tussen verpligte geld – die geld afkomstig uit ’n pensioenfonds of uittreeannuïteit (UA) – en diskresionêre geld – jou eie spaargeld, met ander woorde, nie geld wat in ’n aftreefondsproduk belê was nie.
Jy kan ’n lewensannuïteit, soos in die geval van ’n lewende annuïteit, net koop met verpligte geld. Die verskil is, soos genoem, die een bied ’n gewaarborgde inkomste; met die ander (die lewende annuïteit) is jy vir jou eie heil verantwoordelik.
Vrywillige annuïteit
Die goeie nuus is dat jy met jou diskresionêre geld ook ’n lewenslange inkomste kan koop (noem dit maar ’n eie pensioen) met dieselfde waarborge as met die lewensannuïteit.
Die twee is wesenlik dieselfde en ek sal dus voorts die twee saam bespreek.
Verwag ’n lang lewe: Mense leef al hoe langer deesdae. Honderd jaar oud is lankal nie meer so besonders as ’n paar jaar gelede nie.
Ek lees die week dat in Japan daar reeds sowat 95 000 mense ouer as 100 jaar is (sowat 83 000 is natuurlik vroue).
Ons sit hier reeds met die situasie dat jongmense hul aftreeplanne moet begin bou, nie net vir eie aftrede nie, maar ook met die versorging van ouers in ag genome, juis omdat die lewensverwagting langer word (en min ouers genoeg voorsiening maak).
My boodskap vandag is: Moenie dat jou geld voor jou “doodgaan” nie.
Al het jy nie veel nie, moet jy dit kan laat rek. En dit is hier waar ’n lewensannuïteit en ’n vrywillige annuïteit jou waardigheid as oumens kan beskerm en ’n inkomste verseker tot op jou laaste dag.
Inkomste gewaarborg
Soos ek hierbo reeds na verwys het, hierdie produkte bied waarborge. Daar is ’n paar opsies.
- Jy kan die inkomste waarborg vir lewenslank of 10 jaar (of 15 jaar), welke een die langste is. As jy binne die tydperk doodgaan, betaal die inkomste tot aan die einde van die periode uit aan ’n begunstigde.
- Jy kan die inkomste waarborg vir lewenslank en by dood word die volle oorspronklike bedrag aan ’n begunstigde uitbetaal. Jou geld is nie noodwendig “weg” by jou dood nie. Jy kan die volle kapitaalbedrag verseker.
- Jy kan ’n gelykblywende inkomste kry, gewaarborg lewenslank, of jou inkomste jaarliks laat styg met inflasie, byvoorbeeld 5% per jaar. Uiteraard begin die een wat groei met ’n laer bedrag.
Lewende annuïteit of lewensannuïteit (vrywillige annuïteit)
Met ’n lewende annuïteit het jy altyd die risiko dat markomstandighede jou kapitaal kan knou. Met die lewensannuïteit is dit die versekeraar se probleem, nie joune nie.
Met ’n lewende annuïteit, as jou geldjies begin skraps raak, gaan jou inkomste daal sodra jy die perk van 17,5% (die hoogste toegelate onttrekkingskoers) bereik het. As jy eers daar is, of naby, glo my, is dit neusie verby met jou en jou aftredevoorsiening.
Met ’n lewensannuïteit (of vrywillige annuïteit) is jou inkomste gewaarborg en jou jaarlikse groei is gewaarborg, maak nie saak hoe lank jy leef nie.
Maar meer as dit nog, en vir my die enkele grootste voordeel teenoor ’n lewende annuïteit, naas die sekerheid wat dit bring met die waarborge, is dat jy twee lewens hieraan kan koppel.
Wat beteken dit?
Jy koop ’n inkomste nie net vir jou lewe nie, maar ook vir ’n tweede lewe, ’n huweliks- of lewensmaat.
Die inkomste sal dan bly uitbetaal tot by die dood van die langslewende van julle, tesame met groei daarop as jy die opsie gekies het.
Belasting
Inkomste uit ’n lewensannuïteit word net so belas as die inkomste uit ’n lewende annuïteit. In albei gevalle was die geld afkomstig uit ’n pensioen- of UA-fonds waar jy belastingvoordele gehad het.
’n Vrywillige annuïteit daarenteen is ’n baie belastingvriendelike inkomste, aangesien jy net op ’n gedeelte van jou inkomste belasting betaal.
Die rede hiervoor is eenvoudig: Voordat jy die vrywillige annuïteit gekoop het, het jy gespaar met na-belaste geld. Jy het belasting betaal op die groei in jou belegging.
Jy betaal dus nou net gedeeltelike belasting op die inkomste omdat ’n deel daarvan uit jou kapitaal kom (sonder om jou werklike kapitaal te verweer; onthou, die inkomste is lewenslank gewaarborg).
Daar is twee tipes aftredebeplanning. Die een is vir aftrede, eendag. Die ander is by aftrede; die res van jou lewe. Kry kundige raad.
Nog raad
Die voordeel is in die sekerheid
In die hoofrubriek het ek gewys op die voordele van ’n lewensannuïteit en toe ook ’n vrywillige annuïteit met diskresionêre geld.
Die voordeel van albei lê in die sekerheid wat dit bring. Sekerheid van inkomste en sekerheid van jaarlikse groei. Tot by dood. Maar ’n vrywillige annuïteit kan ook gebruik word in jou belastingbeplanning by aftrede.
Dit werk soos volg:
By aftrede, op voorwaarde dat jy nie voorheen ’n kontantbedrag geneem het uit ’n aftreefonds of skeidingspakket wat saamgetel moet word by die kontantbedrag wat jy neem nie, kan jy eenderde van jou geld in kontant neem. Dan sal die eerste R550 000 teen ’n nulkoers belas word. Die res van die kontantbedrag teen onderskeidelik 18%, 27% en 36%. Of ’n kombinasie van die drie.
As jy sien dat jy voortaan belas gaan word (op inkomste) teen ’n hoër koers as hierdie koers, sal dit voordeliger vir jou wees om liewer die kontantbedrag te neem teen hierdie laer koers.
Dit word dan onmiddellik diskresionêre geld, wat jou sal toelaat om daarmee ’n vrywillige annuïteit te koop waar jy die gewaarborgde inkomste kan kry teen ’n vriendeliker belastingkoers.
Aftredebeplanning gaan oor meer as om net ’n pensioen te koop. Kry eers kundige hulp.