Lewenspolisse: Wil jy regtig al daardie geld in die water gooi?

Dink mooi voordat jy enige polisse en dekking net afskryf—’n impulsiewe besluit kan jou en jou geliefdes duur te staan kom. Lees verder vir insigte om ingeligte besluite te neem en jy nie jare se premies tot niet maak nie.


Lewenspolisse: Wil jy regtig al daardie geld in die water gooi?

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  18 Mei 2025

Watter polisse en dekking moet jy hou nadat jy afgetree het en watter kan jy maar laat gaan? Stadig nou en dink mooi, skryf Nico van Gijsen.

’n Leser laat weet die afgelope week hy is na aan aftrede. Wat moet hy doen met sy polisse?

Hy het, soos seker die meeste verstandige mense, polisse vir lewens-, ongeskiktheids- en gevreesdesiektedekking. Hy voel dat hy by aftrede dié dekking nie meer nodig het nie.

Stadig nou.

Ja, ek ken die argument van die polisse het hul doel gedien – jy was gedek toe dit nodig was – maar daar is nog baie om oor te dink.

Ongeskiktheidsdekking

Mense kom by aftrede en as hulle wys was en goed voorsiening gemaak het, het hulle ’n inkomste vir die res van hul lewe. Kortom, hulle hoef nie meer te spaar vir aftrede nie.

Vanuit die oogpunt van finansiële risiko’s, só kan ’n mens redeneer, is ongeskiktheidsdekking ná aftrede mos onnodig. Die doel van ongeskiktheidsdekking is tog om voorsiening te maak vir indien jy ongeskik raak vir jou werk en dus nie meer inkomste kan verdien waaruit jy kan spaar vir aftrede nie.

Op dié punt dalk net ’n opmerking: Die meeste mense, voor aftrede, lyk dit vir my, sit met sowat R1 miljoen of R2 miljoen se kapitale ongeskiktheidsdekking. Dis heeltemal ontoereikend as jy dink aan ’n lang leeftyd waartydens jy onderhou moet word.

Verseker jou inkomste. Dis belangriker. Jy kan doen met albei, maar spesifieke inkomste- ongeskiktheidsdekking is na my mening die pad om te gaan.

Ons kan vorentoe dalk in meer diepte daarna kyk.

Dekking vir gevreesde siektes

Wat die ander risikovoordele betref waarna die leser verwys, lewens- en siektedekking, is die finansiële waters ietwat meer troebel.

Jy gaan dood. Dit weet jy. Of jy afgetree is of nie.

Jy kan siek word. Dit moet jy weet. Inteendeel, hoe ouer jy word, hoe groter is jou kans om ’n gevreesde siekte op te doen.

Jy neem risikodekking om in te staan vir die finansiële verlies of dan die finansiële gevolge van so ’n gebeurtenis in jou lewe.

Ek het hier bo reeds geraak aan ongeskiktheidsdekking. Die ander twee is ietwat meer kompleks. Veral waar dit gaan oor “het ek dit nog nodig by my aftrede of nie?”.

My advies, wanneer ek aftredebeplanning doen vir mense en hulle het nie dekking teen gevreesde siektes nie, is om ’n deel van hul spaargeld daarvoor weg te sit.

Lede van die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) sal ek byvoorbeeld aanraai om nie hul gratifikasie sommer op vakansies te blaas nie.

Die finansiële gevolge van so ’n siekte kan katastrofies wees. Kankerbehandeling is duur en dit kan lank duur. Soms sonder veel kans op beterskap.

Alzheimer se siekte is lank en duur. Dit kan baie jare neem voordat jy uiteindelik sterf en intussen moet daar na jou omgesien word. Jy kan tog nie dat kinders daarvoor instaan nie.

En jou aftree-inkomste is nodig vir dag-tot-dag-oorlewing; dis selde genoeg om iemand wat aan so ’n siekte ly, ook nog te versorg.

Jou mediese skema dek eenvoudig nie al hierdie koste nie.

Meer nog, ongelukkig probeer baie mense geld bespaar deur net die mees basiese medieseskemavoordele te bekom.

En as hulle dan siek word en hul mediese plan dek nie alles nie, is hulle vreeslik verontwaardig en blameer die mediese skema, pleks van hul eie kortsigtigheid.

Lewensdekking

Daar is baie redes om lewensdekking uit te neem.

Vir ons doel vandag – het jy lewensdekking nodig ná aftrede? – lê ek die klem net op enkeles:

  • Versorging vir naasbestaandes: Ons aanvaar maar jy het teen aftrede reeds van skuld ontslae geraak, lank gelede al.

Sommige mense se aftree-inkomste verminder as een wegval. En glo my, een mens se verpligtinge ná die dood van die ander is nie net mooi die helfte van wat dit was nie. Jou kosrekening is dalk minder, maar vir die res is dinge maar soos dit was.

  • Boedelkoste: Doodgaan kos geld. Dink aan belastings, veral boedel- en kapitaalwinsbelasting. Wil jy dat dit uit jou erfgename se nalatenskap gedek word?
  • Dink aan sterfbedkoste: Jy kan ’n lang en uitgerekte doodstyd hê, met geldverpligtinge wat ophoop.

En veral belangrik, as jy nie gevreesdesiektedekking het nie, dan is daar gewoonlik – by die beter versekeraars in elk geval – die voordeel dat as ’n terminale siekte by jou gediagnoseer word, die sterftedekking voor jou dood sal uitbetaal.

Ek het al gesien hoe dit die familie van siek mense van ’n seker geldhel kon red.

Wat kan jy doen?

Oorweeg gerus die koste van risikodekking ná aftrede. Min mense se pensioen is so groot dat hulle geld links en regs kan uitgee.

Kyk na die punte wat ek hier bo aanraak. Dink dan mooi. Verkieslik saam met jou finansiële raadgewer.

Kanselleer gerus die voordele wat jy meen jy nie meer nodig het nie. Daardie ekstra R1 000 of R10 000 per maand kan ’n gewoon goeie aftrede sommer lekker maak.

Gevreesdesiektedekking moet jy hou as jy kan. Tensy jy genoeg spaargeld het wat kan voorsien indien nodig.

Lewensdekking sal ek nie sommer kanselleer nie. Al lyk jou pensioeninkomste ook hoe.

Daar is die redes wat ek hier bo noem.

Maar vra jouself af of jy werklik al die jare se premies sommer in die water wil gooi. Jou dood is seker. Die polis ook. As jy dit in stand hou.

Of laat ’n kind die premies oorneem. Dit is séker geld.

Scroll to Top