Lewende annuïteite by dood: Benoem beslis!

Weet jy wat met jou lewende annuïteit gebeur wanneer jy te sterwe kom? As jy nie ’n benoemde aanwys nie, kan die finansiële gevolge vir jou erfgename en boedel verreikend wees.


Lewende annuïteite by dood: Benoem beslis!

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  20 Oktober 2024

Anders gaan die geld na jou boedel, en dit het breë implikasies

Ons is nou al ’n paar weke hier aan die gesels oor aftrede en daar is baie klem gelê op lewende annuïteite.

Vandag kyk ek spesifiek na die situasie by dood van die eienaar van die lewende annuïteit. Dit is nie so eenvoudig as wat die meeste mense skynbaar dink nie.

Maar laat ek net eers my hart uitstort.

Ek hoor baie, te veel keer, dat mense liewer ’n lewende annuïteit kies vir inkomste ná aftrede as ’n gewaarborgde lewensannuïteit.

Die rede? “Ek wil darem iets aan die kinders nalaat.”

Kry dit uit jou kop uit. Los vir die kinders alles wat oorbly, maar sorg eers vir jouself en jou huweliks- of lewensmaat.

Dit is immers jou geld.

Die belangrike punt is dat jy finansieel aan die gang gehou moet word en nie verplig moet word om in ellende by kinders in te trek as jou inkomste opdroog omdat daar nie genoeg daarvan is nie.

Kyk gerus my vergelykende voorbeelde van twee weke gelede.

Ek los dit eers daar.

Ek dink die meeste mense weet dat ’n lewende annuïteit – dit wat oor is – by dood uitbetaalbaar is aan ’n benoemde. Die persoon – die benoemde – kan dan die geld in die vorm van ’n annuïteit (maandelikse of jaarlikse inkomste) neem of dit as ’n kontantbedrag laat uitbetaal.

As daar nie ’n benoemde aangewys is nie, sal die geld aan die oorledene se boedel uitbetaal.

En as lesers alles wat ek die laaste paar weke oor lewende annuïteite of pensioenfondse of uittree-annuïteite geskryf het, wil ignoreer, onthou dan net dit: Sorg dat jy ’n benoemde aangewys het met sulke fondse (ja, veral die een deur jou werkgewer, want dit is gewoonlik die grootste bedrag).

Dit is belangrik. Hoekom?

Het jy nie ’n benoemde aangewys nie, betaal die geld, soos genoem, uit aan jou boedel.

Hoewel dit nie vatbaar sal wees vir boedelbelasting nie, is die bedrag geld belasbaar as ’n kontantbedrag by aftrede en belasting van tot 36% is daarop betaalbaar (dit geld natuurlik ook as die benoemde die geld as kontant neem).

Maar verder as dit, omdat die geld in die boedel beland, moet die eksekuteur daarmee werk en is die eksekuteurs- tarief ook hierop betaalbaar. Dit is gewoonlik aan die orde van 3,5% plus BTW indien van toepassing, wat dit effektief 4,03% maak.

Dit is die geld wat jy kan spaar deur sommer môre hiervan seker te maak.

Kom ons kyk nou na die vraag: Wie is ’n benoemde en hoe kan jy hom of haar aanwys?

Doen dit liewer op die vorm wat jy verkry van die instelling waar die lewende annuïteit gehou word. Liewer nie in jou testament nie.

Daar is die mening as jy wel die benoemde in jou testament aanwys, hoewel dit tegnies nie ’n benoemde is nie, word die eksekuteur van die boedel regtens die benoemde. Dit behoort dan die boedel die opsie te bied, deur die eksekuteur as verteenwoordigende benoemde, om te kan kies tussen ’n annuïteitsinkomste of ’n kontantbedrag of ’n bietjie van elk.

Daar is nog ’n kinkel: Die produk self moet toelaat dat die boedel benoem mag word. Lewende annuïteite is nie almal dieselfde nie.

En onthou die boedelbelasting en eksekuteurstarief wat ek hierbo noem, sou die geld aan die boedel uitbetaal.

Wat van ’n trust?

Kan jy ’n trust aanwys as die benoemde van die lewende annuïteit?

Jan Taks laat toe dat ’n trust aangewys kan word as benoemde. Die trustees sal dan dieselfde keuses hê tussen ’n kontantbedrag (met die belasting toepaslik op ’n kontantbedrag) of ’n annuïteits- inkomste.

Weer eens is hier nie ’n reël van toepassing nie. Dit sal afhang van die spesifieke produk of die trustee die geld as ’n kontantbedrag moet neem en of dit as ’n annuïteit kan uitbetaal (annuïteit is maar bloot ’n deftige woord vir ’n gereelde uitbetaling).

Wat nou van inkomstebelasting op daardie annuïteit, sou die trustee die opsie kies?

Trusts betaal inkomstebelasting op inkomste (enige annuïteit word as inkomste belas) teen ’n vaste koers van 45%. Individue betaal tussen 18% en 45%, na gelang van elkeen se vlak van belasbare inkomste.

Maar Jan Taks het ’n toegewing gemaak.

Op voorwaarde dat (i) die trust as ’n werkgewer registreer vir die lopende betaalstelsel; en (ii) ’n belastingklaringsertifikaat aan die administrateur van die lewende annuïteit voorsien, kan die administrateur afsien daarvan om terughoubelasting teen 45% te verhaal.

Die trustbegunstigdes sal dan as individue op die inkomste belas word teen hul onderskeie marginale koerse.

Weer is daar ’n stertjie

Sou ’n trust as benoemde van ’n lewende annuïteit aangewys word, skep dit ’n ander probleem.

’n Lewende annuïteit kan net as ’n kontantbedrag uitbetaal by die dood van die persoon wat die lewende annuïteit hou.

’n Trust kan nie doodgaan nie. Die lewende annuïteit kan dus nie in kontant uitbetaal as die trust se begunstigde sterf nie.

Ek vertrou die laaste weke se klem op lewende annuïteite spesifiek en aftreefondse in die algemeen kon vir lesers waarde toevoeg.

Dit het begin met ’n vraag van ’n leser: Kan jy vir ons “alles” oor lewende annuïteit skryf?

Ek het baie belangrike punte gemaak, maar die belangrikste van alles is, kry kundige hulp.

Jy kan so slim wees as jy wil. Jy weet nie wat jy nie weet nie.


Nog raad

Pensioengeld: Pasop vir art. 37C

Die voordele betaalbaar by die dood van ’n lid van ’n pensioen- of voorsorgfonds of ’n uittree-annuïteit (UA) val nie in die oorledene se boedel nie. Maar dis nie die einde nie.

Art. 37C van die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1956) bepaal hoe daarmee te werk gegaan moet word. Ek wys kortliks op ’n paar belangrike punte.

Die trustees van die fonds is kragtens wet verplig om, voordat enige geld uitbetaal word, moeite te doen om afhanklikes van die oorledene op te spoor.

Die afhanklikes sal dan voorkeur kry, ongeag aan wie jy die voordele begunstig het. Jy kan ook nie jou voordele waarvan ons hier praat in jou testament bemaak nie.

Maar hier is nog ’n slaggat: Hoewel jou pensioen- of UA-voordele in lewe beskerm is teen skuldeisers, verval dit by dood.

Afhanklikes sal altyd voorkeur kry, soos genoem.

As daar geen afhanklikes is nie en jy het iemand benoem wat nie ’n afhanklike is nie, dan sê die wet (art. 37C(1)(b)) moet jou skuldeisers (as daar is) eerste betaal word voordat die benoemde enige voordeel kan kry.

Beplan jou finansies met ’n kundige. Dit gaan nie net oor produkte nie.

Scroll to Top