Baie mense besef eers te laat dat hul spaargeld nie by hul lewensverwagting gaan uitkom nie – en dat verkeerde besluite dié gaping vinnig kan vergroot.
Jy gaan langer leef as jou geld
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 10 Augustus 2025
Onthou, jy het eintlik vir ’n korter termyn gespaar as die tyd waarvoor jy gaan geld nodig kry, skryf Nico van Gijsen.
Jou besluite by aftrede gaan oor meer as net: “Waar moet ek my geld belê?”
En tog is dit die algemene vraag. Ek dink dis omdat mense by aftrede opeens met meer geld sit as wat hulle in hul lewe bymekaar gehad het, of ooit bymekaar sal hê.
Dis ’n fout.
Gewoonlik word drie, vier makelaars gekontak om aanbevelings te doen. Elkeen probeer natuurlik sy of haar hande op die geld kry en skets die mooiste prentjie denkbaar. Dink aan beloftes van reuse-opbrengste. Ek hoor selfs van belastingvoordele wat eenvoudig nie bestaan nie.
Nee, jy begin met ’n plan.
Elkeen se plan gaan verskil, maar ek raak aan ’n paar werklikhede vir dié wat dalk eers ’n bietjie meer wil dink as om goedsmoeds die verkoopsfoefies te sluk.
Verpligtinge, risiko’s en inkomste
Voordat jy enigiets doen, maak ’n lys van jou geldelike verpligtinge. Hopelik is geen skuld agterstallig nie. Jy behoort nie skuld te hê by aftrede nie, nie eens op ’n huis of ’n motor nie.
As daar is, moet dit aandag kry. Al is dit uit jou nou beperkte bron van geld.
Kyk na jou versekering. Lewensdekking moenie lig opgeneem word nie, maar vir baie mense kan dit onnodig wees – as jy genoeg gespaar het.
Dekking teen gevreesde siekte is uiters belangrik. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie. Pas liewer jou leefstyl aan voordat jy jou gevreesdesiektedekking staak.
En dan is daar lidmaatskap van ’n goeie mediese skema. Kry die beste wat jy kan bekostig.
Ná hierdie oefening sal jy ’n goeie idee hê van hoeveel inkomste jy nodig gaan hê uit jou aftreekapitaal. Dit gaan nie oor hoeveel jy kan onttrek nie, dit gaan oor hoeveel nodig is om van te leef.
Jy kan nog baie jare leef. Onthou, jy het eintlik vir ’n korter termyn gespaar as die tyd waarvoor jy gaan geld nodig kry. Dink daaraan.
Jou pensioen
Diegene wat hul eie pensioen moet aankoop, het ’n keuse tussen ’n lewende annuïteit (beleggingsgekoppelde lewende annuïteit is sy volle naam) en ’n lewensannuïteit (wat ’n gewaarborgde inkomste lewenslank verskaf, ingesluit, sou jy die opsie kies, ’n lewenslange inkomste vir ’n langslewende gade).
En dis net hier waar baie, soms met oop oë, hulself op die afwaartse spiraal na geldelike ellende plaas. Om nooit daarvan te herstel nie. Hulle sink net dieper.
Hoekom?
Omdat hulle dink hulle het meer geld as wat hulle het. Omdat hulle vertel word hulle moet ’n lewende annuïteit aankoop, want as jy doodgaan, kry jou vrou alles wat oor is. En jy kan meer pensioen onttrek as wat die gewaarborgde lewensannuïteit jou bied.
Ja, jou vrou kan alles kry wat oor is ná jou dood. Maar hoeveel is oor as jy meer onttrek het as wat jy aan groei gekry het? Daar is ’n maksimum van 17,5% wat onttrek kan word in ’n jaar en soos wat jou kapitaal minder word, só raak jou inkomste minder.
Ek raai nie as ek daaroor skryf nie. Dis nie teoreties nie. Ek sien dit. Amper elke dag.
Hou jou oë oop. Kry al die inligting. Vra die vrae. Doen aanpassings as jy met ’n bietjie minder moet klaarkom. Dit is beter as die alternatief.
Belastings
’n Belastingvriendelike pensioeninkomste bestaan nie.
Ek hoor ook van argumente dat rente-inkomste nie belasbaar is nie, danksy die jaarlikse R34 500 rentevrystelling vir mense oor 65 jaar, so ook die jaarlikse R40 000 kapitaalwinsuitsluiting. Dit geld eenvoudig nie.
Wie ook al dié snert vertel, moet dalk liewer gaan roomys verkoop op die strand.
Dié belastingvrystellings en uitsluitings geld diskresionêre beleggings, nie beleggings met verpligte geld (wat afkomstig is uit pensioenfondse en uittree-annuïteite) nie.
Of jy in ’n lewende annuïteit belê en of jy vir jou ’n gewaarborgde lewensannuïteit aankoop, die volle inkomste wat jy onttrek, of ontvang, word ingesluit by jou bruto inkomste vir die jaar waarop jou belasting bereken word op die normale manier en belas word volgens skaal.
Daar is ook geen sprake dat jou inkomste belastingvriendelik is omdat jy ’n deel van jou eie kapitaal onttrek nie. Dis twak. Jou inkomste is in die vorm van ’n annuïteit en dis ten volle belasbaar.
Die groei in die belegging self met ’n lewende annuïteit is natuurlik vry van belasting. ’n Lewensannuïteit werk heel anders; jy het ’n kontrak met die versekeraar wat moet sorg vir jou inkomste.
Vrywillige geld
Het jy vrywillige geld (nie afkomstig uit ’n pensioen of uittree-annuïteitsfonds nie) op belegging waaruit jy ’n inkomste ná aftrede onttrek, dan lyk die storie anders.
Dié inkomste is belastingvry. Dis immers jou geld. Jy word jaarliks belas op die groei in die belegging self (op inkomste en op kapitaalgroei as jy aandele van die hand sit). Dan geld die vrystelling en uitsluiting waarna ek hierbo verwys wel.
Jy kan natuurlik met jou vrywillige geld ook ’n annuïteit aankoop, genoem ’n vrywillige annuïteit, sou jy ’n lewenslange gewaarborgde inkomste soek en jouself wil vrywaar teen markskommelinge.
Die inkomste uit so ’n vrywillige annuïteit is eweneens belasbaar as ’n annuïteit. Maar omdat die annuïteit betaal word uit jou eie kapitaal (vrywillige geld), is dit wel ’n belastingvriendelike belegging.
Jou aftrede begin met beplanning. Nie by die produk nie.