Beplan ná aftrede: Die wat en die hoe

Beplan ná aftrede… Nico bied ‘n insiggewende blik op aftrede: die geleenthede sowel as die uitdagings. Beplan vir die onvermydelike en koester ware rykdom wat nie net van geld afhang nie.


Beplan ná aftrede: Die wat en die hoe

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  26 Mei 2024

Maar put vreugde uit wat geld nie kan koop nie

Aftrede is nie die einde nie. Al dink baie mense so.

In baie opsigte is dit die begin. Jy kan nog maklik 20, 30 jaar lank leef nadat jy afgetree het. In baie gevalle langer as die tyd wat jy gespaar het om genoeg rykdom te skep vir die jare ná aftrede. Dit is die tyd van die lewe waarop ek wil fokus vandag – die tyd tussen aftrede en die dood.

As jy genoeg gespaar het, kan dit finansieel ’n makliker tyd wees. As jy nie het nie, gaan dit uiteraard moeiliker wees.

Die waarheid is dat dit wat jy nou het, moet hou totdat jy die dag jou kop finaal neerlê. En daarna nog dalk ook vir ’n langslewende gade. Kortliks, jy moet nou die regte besluite neem. Jy kan nie nou foute maak nie.

Jy kan nie bekostig om emosionele besluite te neem nie. Dit gaan nou om finansiële oorlewing.

Maar net eers kortliks iets oor rykdom. Werklike rykdom.

Jy is eers regtig ryk as jy die dinge het wat geld nie kan koop nie. Dink hieroor. Wees bly as jy het, want dan jy is bevoorreg. As jy nie het nie, werk daaraan om dit te kry. Geld is baie belangrik. Maar dit is nie al wat belangrik is nie.

Koester jou liefde vir jou kinders. En jou kleinkinders. Ek kan regtig nie sê vir wie, kinders, of kleinkinders, ek en my vrou die liefste is nie. En dan is daar ook nog twee skoondogters wat ’n plek in ons harte kom oopskrop het. Maar ’n mens se hart is seker soos een van daardie minibus-taxi’s, altyd plek vir nog een.

Koester hulle. Wees lief vir hulle. Bederf hulle.

Maar hou hulle uit jou beursie uit

Laat hulle werk vir wat hulle wil hê. Dit gaan hulle sterker en beter mense maak. Op wie jy ook trots kan wees.

Dit is maar die enkel grootste probleem wat ek sien vir mense ná aftrede. Kinders wat hul ouers melk.

Die tweede is die kommer oor blyplek. En selfs hier wurm sommiges se kinders gans te maklik in.

’n Leser skryf hy is afgetree. Hy en sy vrou woon op ’n plattelandse dorp. Hulle is baie gelukkig daar. Maar die geldnood begin nou druk en hy oorweeg om sy huis by die see te verkoop om die pot aan die kook te hou.

“Maar die kinders wil niks daarvan weet nie. Hulle geniet die strandhuis. Moet ek maar liewer my huis (op die platteland) verkoop en in die strandhuis gaan bly en dit dan by sterfte aan die kinders bemaak?”

Ek het die leser direk geantwoord. Reguit. Dis mos hoe ek is.

Nietemin, hier is dit.

Sê vir jou kinders as hulle so belangstel in die strandhuis dat hulle dit by jou kan koop. Dit is sweerlik tyd – hulle is al getroud – dat hulle van die bottel af gespeen word. My vrou het toe my seun sommer nog ’n babatjie was ’n gat in sy bottel se tiet geknip. Hy het gou geleer as hy homself nie wil bemors elke keer as hy die bottel optel nie, moet hy by die werklike lewe aanpas.

So my raad is, kyk na jou en jou vrou. Laat jou kinders toe om groot te word en aan te pas. Julle kan die strandhuis verhuur om te help met ’n ekstra inkomste in jul laat jare.

Die kinders kan dan maar wag dat julle doodgaan en hoop hulle erf die strandhuis.

Of julle kan – my voorstel – die strandhuis verkoop en vir julle met die geld ’n gewaarborgde lewenslange pensioen daarmee aankoop. Dit sal gemoedsrus bring, iets wat al belangriker gaan word soos wat die jare aanstap.

Dit kan ’n pensioen betaal tot by die sterfte van die langslewende van julle.

Beplan egter vroeg

Dit is belangrik om hierdie dinge vroeg in jou aftrede te beplan.

Om sommer net op ’n ander plek te gaan woon, gaan jy jou ondersteuningsbasis, jou vriendekring, alles moet prysgee. En dit vir wat? Jy is gelukkig waar jy is. Werk aan jou eie geluk.

Dom besluite nou kan dalk veroorsaak dat jy later by een van jou kinders moet gaan intrek. Dit, uit wat ek oor die jare sien en hoor, is vir die meeste mense nie goed nie. Jy maak jouself afhanklik. En jy word mettertyd soos ’n afhanklike behandel.

Vergete dan is al daardie dinge wat jy ter wille van hulle moes prysgee om jouself in hierdie geldelike penarie in te beplan.

Ek het genoem van ’n gewaarborgde lewenslange pensioen. Die tariewe is tans uitstekend. Soos ek genoem het, dit gee gemoedsrus, want jy het nie nodig om die swak rente van die banke te aanvaar, of om jou te bekommer oor sensitiewe beleggingsmarkte nie.

Jy weet wat jy kry. Jy weet dit is lewenslank. Dit is ’n wen-wen al die pad.

As jy jou woonplek en jou inkomste verseker het, is daar nie veel meer waaroor jy jou hoef te bekommer nie.

Hou jouself aktief. Dit help vir die lyf en die kop.

Hier is die boodskap: as jy nie beweeg nie, gáán jy nie beweeg nie. Put jou vreugde uit dit wat jy het, dit wat geld nie kan koop nie.


Nog raad

Testament – wie is bevoeg?

Wanneer is ’n persoon bevoeg om ’n testament op te stel?

Die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953) is baie duidelik dat nie enigeen ’n testament kan opstel, of as getuie onder- teken nie.

Die wet bepaal dat enigeen bo die ouderdom van 16 jaar ’n testament mag opstel, tensy so ’n persoon tydens die opstel van die testament verstandelik onbevoeg is om die aard en omvang van sy of haar handeling te verstaan.

Die bewyslas dat so ’n persoon nie verstandelik bevoeg was op daardie tyd nie, berus op die persoon wat dit beweer.

Kortweg, as jou kind bates besit kan hy of sy, van ouderdom 16, dit bemaak aan wie hy of sy wil.

Die ouderdom vir wanneer ’n persoon bevoeg is om as ’n getuie ’n testament te onderteken, is ietwat laer.

Enigeen van 14 jaar oud of ouer mag ’n testament as getuie onderteken, mits daardie persoon nie onbevoeg is om in ’n hof getuienis te mag aflê nie.

Pasop nou net om nie sommer gou vir Jannie of Sannie nader te trek om jul testamente as getuies te onderteken nie. Tensy julle dalk nie vir hulle wil laat erf nie, want ’n getuie mag nie erf nie.

Scroll to Top