Baie mense sien uit daarna om vroeër toegang te kry tot hul aftreegeld, maar verstaan nie die langtermyn-gevolge van die tweepot-stelsel nie. Nico ontrafel die fynskrif rondom hierdie nuwe wetgewing en hoe dit jou aftrede kan beïnvloed.
Aftreegeld: Só werk die tweepot-stelsel
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 28 Julie 2024
Sinlose wetgewing kan gierige mense in versoeking lei
Die Kalahari-tentkamp in die Kgalagadi-oorgrenspark, een van my gunstelingkampe, het een tent wat hulle noem die Wittebroodtent.
Dit verskil in twee opsigte van die ander tente. Dit het ’n dubbelbed. En daar is ’n yslike boom wat jou uitsig op die watergat belemmer.
Ek laat dit maar aan lesers oor om dit self verder te ontrafel. Ek verstaan geld beter.
Dit is waaraan ek gedink het die afgelope week nadat pres. Cyril Ramaphosa wetgewing onderteken het wat die sogenaamde tweepot-aftreestelsel – ’n spaarpot en ’n aftreepot – daarstel. Dit tree op 1 September in werking.
Almal is skynbaar opgewonde oor die feit dat jy voor aftrede toegang het tot eenderde van jou aftreegeld (in die spaarpot).
Dit spreek tot die nou-behoefte, soos die Wittebroodtent, maar agter die boom word die uitsig op aftrede by die watergat weggesteek.
Kom ons kyk opsommend wat die tweepot-stelsel behels.
Verstaan mooi hoe die potstelsel gaan werk
Daar is voortaan twee potte as jy spaar in ’n aftreefonds of uittree-annuïteit (UA). Die een is die spaarpot wat mense toegang bied tot eenderde van hul aftreespaargeld voor aftrede. Die tweede is die aftreepot, waartoe jy nie toegang het nie totdat jy die dag aftree.
Die bedoeling hiermee is om mense se aftreegeld te beskerm. Of dan minstens tweederdes daarvan. Sommige het skynbaar glo selfs hul werk bedank om by hul aftreegeld uit te kom.
Of dit sin maak in ’n land waar skaars 10% van ons mense kan bekostig om af te tree om toe te laat dat mense een- derde van hul geld kan vat voor aftrede is ’n vraag wat ek nie verstaan nie.
Ek wil nietemin wys op enkele faktore wat nie altyd duidelik deurkom in die media hieroor nie.
Die tweepot-stelsel en die onttrekkingsmoontlikheid van eenderde uit die spaarpot raak nuwe bydraes tot ’n pensioenfonds of UA wat ná 1 September gedoen word.
Die geld in jou bestaande fonds (pensioenfonds of UA) word in ’n derde pot, die sogenaamde gevestigde komponent, gehou. ’n Deel daarvan, die laagste van 10% of R30 000 van jou fondswaarde soos op 31 Augustus, word na die spaarpot oorgedra. Jy sal dus onmiddellik daaruit kan onttrek as jy wil. Alle toekomstige bydraes tot byvoorbeeld jou bestaande UA sal ingevolge die nuwe wetgewing tussen die twee potte verdeel word, wat jou toegang sal bied tot daardie deel van jou premies wat in die spaarpot is.
Onttrekking uit die spaarpot word een keer per jaar toegelaat. Die minimum bedrag wat jy kan onttrek is R2 000. Die maksimum is die waarde in die pot.
Hier is nou waar jy die pot lelik kan mis sit met jou aftredebeplanning as jy gaan opgewonde raak oor die nuwe stuk sinlose wetgewing. Dit is sinloos, na my mening, omdat mense eerder aangemoedig moet word om meer te spaar vir aftrede.
Ek besef daar is ’n keersy van die munt en dat mense wat byvoorbeeld hul werk verloor en die pot aan die kook moet hou, toegang sal wil hê tot hul aftreespaargeld. Ek was self al in so ’n situasie. Maar nou word sulke mense beperk tot net eenderde van hul geld.
Hoe help dit om die wolf van die deur weg te hou?
Ek sien dat hierdie nuwe wet eintlik net mense gaan help wat graag geld uitgee (mors) op onnodige goed. En eendag maar net weer aan armmansdeur gaan moet klop.
Die gevolg van ondeurdagte onttrekkings hoef ek seker nie in meer woorde uit te spel nie. As jy dit gaan doen, gaan jy te min geld hê vir aftrede. En dit is reeds ’n probleem in ons land.
Maar wat jou nog armer gaan maak is die belasting.
As jy al jou geld in die pensioenfonds of UA gaan los – die eenderde – dan kry jy belastingvrye groei daarop. Dit is ’n bonus.
As jy die eenderde-kontantonttrekking by aftrede neem, word die eerste R500 000 teen ’n nul-koers belas en die res teen onderskeidelik 18%, 27% en 36%. Die 36%-koers eers op die bedrag bo R1 155 000.
As jy voor aftrede geld uit jou spaarpot onttrek, word dit gereken as inkomste vir daardie jaar en belas teen jou marginale koers. Van die eerste rand.
Wat beteken dit?
As jou belasbare inkomste meer is as R512 800 vir die jaar is jou marginale koers reeds 36%.
Dit is waarteen jy belas gaan word op daardie geld wat jy uit jou spaarpot gaan onttrek. Vergelyk dit met wat ek hierbo noem sou jy die eenderde-kontant- onttrekking doen by aftrede.
Natuurlik, hoe meer jy verdien of hoe groter jou onttrekking uit die spaarpot hoe meer is jou marginale belastingkoers. Jy kan tot 45% belasting op daardie geld betaal. En dan moet jy ook nog die administrasiekoste in ag neem. Dit is regtig net nie die moeite werd nie.
Almal van ons moet erns maak met aftredebeplanning. Jy kan lank leef ná aftrede, maklik nog 30 jaar, en jy moet leef van dit wat jy gespaar het toe jy kon.
Moenie jouself nou al in die voet skiet deur aftreegeld vroeg te onttrek, ten duurste daarvoor te moet betaal deur middel van belasting, net om nou die een of ander gierigheid te voer nie.
Nog raad
Die voordele om jou geld te los tot aftrede
Die nuwe tweepot-aftreestelsel bied jou voortaan toegang tot eenderde van jou aftreegeld voor aftrede.
Daar is baie goeie redes om liewer meer by te dra tot aftredevoorsiening as jy kan. Finansiële redes.
Jy kan jaarliks tot 27,5% van inkomste of R350 000 (die minste van) bydra tot ’n aftreefonds, ingesluit ’n uittree-annuïteitsfonds (UA). Die meeste mense dra net 15% by.
Sou jy binne die perk (27% of R350 000) bydra is die bydraes aftrekbaar vir belasting teen jou marginale koers. Kom ons sê dit is 40%. Dit beteken dat jy prakties vir elke R60 wat jy spaar ’n aftreevoordeel van R100 kry. Dit is groot.
En al die groei in jou aftreebelegging is boonop belastingvry. Geen inkomstebelasting op rente, geen kapitaalwinsbelasting op aandeleverhandeling en geen dividendbelasting nie.
By dood is die geld ook nie vatbaar vir boedelbelasting nie.
Jy kan ook meer bydra as die perke wat ek hierbo noem. Hierdie perke is net vir belastingaftrekking terwyl jy spaar.
Spaar jy meer as dit kry jy dieselfde belastingvrye groei op die geld. Dit sal egter wel inval vir boedelbelasting. Ná aftrede sal jy ’n belastingvrye inkomste uit hierdie geld kan neem.