In ‘n era van ekonomiese verandering en langer lewensduur, is vroeë aftreebeplanning ‘n noodsaaklike hulpmiddel vir ‘n sorgvrye toekoms. Hier is ‘n paar riglyne oor die aspekte wat aandag behoort te kry met aftrede.
Aftrede: Twee goed wat almal vergeet
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 24 September 2023
Die kennisgewing by ‘n groot handelswarewinkel lui, “Seniors Discount”.
‘n Vriendin vra toe vir die klerk by die toonbank, wanneer word ‘n mens nou as ‘n “senior” beskou?
“Op ‘n Woensdag, mevrou.”
Nou, toe nou. Ek dog as jy eers die ouderdom van oumense bereik het, jy elke dag van die week daardie ouderdom is. Of jy so voel, of nie.
En aftrede?
Dit is blywend. En daarom moet jy van die begin of net voor aftrede reg beplan. Daar gaan nie ‘n Woensdag kom wanneer jy minder of meer afgetree is nie.
Hier is ‘n paar wenke oor die faktore wat aandag moet geniet wanneer jy voor die aftree-deur staan.
Kontantonttrekking
Lede van pensioenfondse (vastebydraefondse) het by aftrede die keuse om eenderde van hul pensioenfondsgeld in kontant te laat uitbetaal. Met die res moet hulle ‘n verpligte pensioen mee aankoop (lees my rubriek, Kry kinders se hande uit jou sak en beursie, Rapport Beleef 3 September 2023 vir meer hieroor).
Daar is twee goed wat ek sien baie mense vergeet.
Eerstens, die feit dat hulle (die meeste mense) om mee te begin te min bymekaar gemaak het vir ‘n gemaklike aftrede. Jou pensioenfonds alleen is byna nooit genoeg nie. Ek sal anderdag meer hieroor skryf.
Die tweede is dat daardie eenderde toelaatbare kontantonttrekking belasbaar is. Dit begin by 0% op die eerste R550 000 en einding met 36% op alles bokant R1 155 000.
My raad is trek net soveel as wat jy kan, wat teen ‘n laer koers as jou marginale inkomstebelastingkoers belas gaan word.
Ek hoop dit maak sin.
As jou marginale belastingkoers byvoorbeeld onder 30% is, is dit mos dom om 36% belasting te gaan betaal op geld wat in elk geval joune is, nie waar nie? Dan is dit mos beter om die kontantbedrag te beperk tot waar jy net 27% te moet betaal. Of selfs 18%, die ander koers vir aftree-kontantbedrae.
In elk geval, hoe minder jy onttrek, hoe meer het jy vir jou pensioen. En dit kan vir ‘n baie lang tyd moet uitbetaal.
Die kontant wat jy wel onttrek, kan belê word vir kapitaalgroei. Of as jy ander kapitaal het, dit te belê in ‘n vrywillige annuïteit (pensioen). Dit is basies soortgelyk aan ‘n lewensannuïteit, maar teen ‘n vriendeliker belastingkoers.
Jy trek dus dubbel voordeel, eers deur die kontantonttrekking te maak teen ‘n laer belastingkoers as jou marginale koers en dan deur ‘n vrywillige pensioen te koop wat nie ten volle belasbaar is nie.
Die GEFP en die gratifikasie
Lede van die staat se pensioenfonds (GEPF, ‘n vastevoordeelfonds) het ‘n gratifikasie wat uitbetaal en eweneens belasbaar is. Jy het nie die vryhede wat lede van vastebydraefondse het nie. Maar jy moet steeds beplan.
Byvoorbeeld, jy sal ‘n keuse hê om na jou sterfte vir ‘n oorlewende gade voorsiening te maak met 50% of 75% van jou pensioen.
Daar is by my geen twyfel dat dit die 75% pensioenopsie moet wees nie.
Huishoudelike uitgawes verminder nie met die helfte wanneer die een party sterf nie. Sorg vir jou mense.
Maar niks is gratis nie. Daardie 75% pensioen moet befonds word. En dit kan gedoen word deur óf jou gratifikasie te verminder óf jou maandelikse pensioen te verminder.
My raad is verminder die gratifikasie. Die kans dat jy dit kan uitmors op onnodige twak is in elk geval goed.
Risikodekking
Die meeste aftreefondse bied ook ‘n mate van risikodekking, lewens- en ongeskiktheidsdekking. Dit is nooit genoeg nie (laat ek dit net noem vir die jonger mense wat hier lees en moet voorsiening maak hiervoor).
Kyk na jou risikovoordele. Dit verval wanneer jy aftree. Baie versekeraars het ‘n voortsettingsopsie, waarna ek sal voorstel jy kyk. Maar dit gaan ook beplanning kos en uiteraard sal dit gedoen moet word in samewerking met ‘n kundige finansiële raadgewer.
As jy ander lewensdekking het, moet dit nie goedsmoeds kanselleer net omdat jy skuldvry is en die kinders uit die huis uit is nie. As dit onnodig blyk te wees, laat die kinders dit oorneem. Jy het immers jare lank daaraan betaal en hulle gaan tog die voordeel kry. Verseker gaan hulle die voordeel kry.
En dan hanteer jy mos sommer die kwessie van “iets vir kinders nalaat”, waaroor ek geskryf het in die rubriek waarna ek hierbo verwys.
Gevreesdesiektedekking is ‘n risiko wat ek meen elkeen moet oorweeg. Ons leef almal langer. En ons wil almal langer leef. Maar ons leef nie gesonder nie. Die kans dat jy ‘n gevreesde siekte opdien is baie goed.
Maar sulke dekking is duur as jy by aftree-ouderdom is. En dit is nog ‘n rede waarom jy jou lewenspolis in stand moet probeer hou na aftrede
Sou jy terminaal siek word, kan die lewenspolis vroeër uitbetaal, wat kan help met duur behandeling, sodat alles nie uit jou pensioengeld gedra hoef te word en jy jou naasbestaandes uiteindelik sonder geld nalaat nie.
Testament
Ja, jou testament is deel van aftreebeplanning. As jy een het, hersien dit.
Die groot voordeel van oud word, soos ek altyd sê, is dat jy nie meer jonk kan doodgaan nie. Maar dood gaan jy dood.
Maak seker jou testament kan dan die praatwerk vir jou doen.
Nog Raad
Opsies met ‘n lewensannuïteit
My rubriek van 3 September waarna ek hierlangs verwys, het ek genoem van ‘n gewaarborgde lewensannuïteit.
Dit het baie vrae van lesers uitgelok. Hier is die opsies sou jy so ‘n lewensannuïteit oorweeg.
Kapitaal terug by dood
Dis die een wat die meeste aandag getrek het. Sommiges vra of dit ‘n standaard voordeel van die lewensannuïteit is. Ander wil weet of dit groei met inflasie.
Nee, dit groei nie. Jy kan nie jou brood aan albei kante gebotter kry nie. Jou lewenslange pensioen en jou kapitaal word beskerm.
En dit is nie standaard nie. Dit is ‘n voordeel wat jy aankoop. My syfers in die voorbeeld van 3 September het dit reeds verreken.
10 jaar waarborg
Jy het ook die opsie om ‘n 10-jaar waarborg te koppel aan jou pensioen. Dit beteken bloot dat sou jy binne 10 jaar sterf, al jou geld nie “weg” is nie. Dit sal bly uitbetaal tot aan die einde van die 10 jaar of jou dood, welke een die langste is.
Tweede lewe Jy kan ‘n tweede lewe koppel aan die pensioen, byvoorbeeld jou man of vrou. In so ‘n geval sal die pensioen bly uitbetaal tot by sterfte van die langslewende. Met of sonder die kapitaalbehoud hierbo genoem.